Thursday 13 November 2008

DIT GAAN OOR GOD SE EER


Hierdie gedeelte is In Oktober 2008 deur 'n vriend geskryf:

DIT GAAN OOR GOD SE EER Ek en jy kan nooit die Here forseer om sekere dinge vir ons te doen nie. Dan word God die dienskneg en ons word God. Baie het so 'n ingesteldheid en waar mense so 'n humanistiese "evangelie" beet het, gaan hulle een of ander tyd diep teleurgestel en ontnugter word. Wat gaan die dag gebeur wanneer hulle moet uitvind God sê "nee" op 'n sekere punt? Gaan hulle dan õõk vir die Here kwaad word en hul rug op die Here draai, soos wat ander gedoen het? In Dan. 3:17, 18 het ons die mooi voorbeeld van mense wat op God vertrou het maar nog steeds die uitkoms in Sy hande gelaat het. Dis die bekende verhaal van die drie vriende van Daniël wat die realiteit van hulle keuse, om nie te buig voor die afgodsbeeld van koning Nebukadneser, in die gesig staar. Dis of buig of vuuroond toe.

Maar luister nou hoe klink hulle antwoord aan die woedende, dreigende en magtige koning: Dan. 3:17 - "As onse God wat ons dien, in staat is om ons te verlos, dan sal Hy ons uit die brandende vuuroond en uit u hand, o koning, verlos;" Dan. 3:18 - "maar so nie, laat dit u dan bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie en die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie." Nie vir 'n oomblik twyfel hulle in God se krag om hulle uit die vuuroond te verlos nie. Hierdie drie gelowige Jode ken die verhale van hulle God se krag: · Hulle God wat hulle voorouers uit Egipte verlos het deur groot wonders en tekens; · Hulle God wat die waters van die Rooi See gekloof het; · Hulle God se voorsiening vir 40 jaar vir 'n volk van 6 miljoen d.m.v. manna, water en selfs vleis (Ps. 78:27) en dit in 'n woestyn! Maar of Hy dit vir hulle gaan doen; daaroor het hulle nie seggenskap nie. Dit laat hulle in hulle God se hande. Maar die faset waaroor hulle wel sekerheid en klarigheid het is: "dat ons u gode nie sal dien nie en die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie." Om vír God te besluit, is nie geloof nie, maar is arrogansie! As gelowige verlaat ek myself op God, vertrou ek op God tot die einde toe! Maar ek aanvaar ook dat Sy besluit en Sy uitkoms sal die regte een wees vir my lewe, want dit gaan oor Sý eer en Sý verheerliking!

NOGTANS ........ Job 17:9 - "Nogtans hou die regverdige vas aan sy weg, en die wat rein van hande is, neem toe in krag." Slegte tye sál kom en storms sál teen my en jou lewe opsteek - ja, selfs teen die vroomste en opregste. Die storms van die lewe is ons ongelukkig nie gespaar nie. Selfs die huis op die rots gebou, moet die storms verduur (Mat. 7:25). Hand. 14:22 sê: "Ons moet deur baie verdrukking in die koninkryk van God ingaan."Jes. 41:2 praat van die water en die riviere (meervoud) en die vuur wat ons in hierdie lewe selfs as kind van God moet trotseer. Maar hierdie dinge moet ons nie van koers af gooi nie.Ek hou van die woord, "nogtans" in Job 17:9. M.a.w. ongeag al die stryd, ongeag die deurmekaar dinge in ons land, die onregverdige optrede van tiranne en maghebbers; hou ons steeds vas aan die weg van die Here. Dien ons steeds die Here. Sal niks maar niks, ons van die Here wegdryf nie. Dit gaan per slot van sake om God se eer, ………… en om aan Hom vas te hou sluit Sy eer in. Tant Sannie de Ferrières se bekende boekie se titel, Al Bruis Die Jordaan, is ontleen aan die woorde in Job 40:18. Dit verwys na die seekoei wat net rustig sy gang gaan, ongeag die rivier wat besig is om te swel en op te styg; asof hy nie eens bewus is van die rivier wat in vloed is nie. · Laat kom wat wil ............... Laat die mense doen en sê wat hulle wil ... · Laat die wêreld so deurmekaar wees as wat dit kan ... "Hierdie evangelie sal ek vas aan hou!!!" K

yk wat sê die laaste gedeelte van Job 17:9 - "die wat rein van hande is, neem toe in krag." Kaleb het na die reuse verwys en gesê (Num.14:9): "Hulle is ons spys." Spys, is kos en kos maak jou sterk en laat jou groei. Dus, aan die einde van die dag, dien die stryd ons en help dit ons om geestelik te groei en sterker te word. Ja, ons neem net toe in krag, ongeag die stryd wat wag!

DIT GAAN ALLES OM GOD SE EER!

No comments: