Sunday 25 December 2011

So Vier Ons Kersfees!

So vier ons Kersfees!

Het jy / julle 'n Kersfees "patroon" of familie tradisie? Só vier ons die Here se Geboorte, God se Groot Geskenk aan ons:

Ou Kersaand:

Ons geniet gewoonlik 'n groterige aandete op hierdie dag, 24 Desember, wat bestaan uit een of ander gekookte dis (Bobotie of so iets), baie versnapperinge (soet en sout terte, lekkers, ens.), en koek vir nagereg.

Ons familie lees daarna, Ou Kersaand, uit die Bybel die verhaal van Jesus Christus se geboorte voor en gesels daaroor.

Voor en na die lesery, sing ons al wat 'n Kersfees verbandhoudende liedjie is. Nou nie Jingle Bells nie, maar liedjies soos Stille Nag, Herders op die Ope Velde, ens.

Daarna, sluit ons af met gebed en danksegging.

Dan is dit tyd vir geskenke uit ruil, wat vir ons die simbool is van God se Groot Geskenk aan ons: dat Jesus Christus, ons Verlosser en Saligmaker, Sy lewe vrywillig en gratis vir ons as losprys gegee het sodat "elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe mag he."

Kersdag:

Die oggend, 25 Desember, woon ons normaalweg 'n kerkdiens by en daarna spandeer ons die res van die dag soos 'n Sabbat: ons eet van die vorige dag se oorskiet, en ander klaar voorbereide geregte, kuier rustig by familie, en reflekteer op wat Kersdag vir ons as Christene beteken.

Dag na Kersdag:

Op 26 Desember (Boxing Day) het ons gewoonlik ons GROOT EET, wat normaalweg bestaan uit braaiboud, gebakte aartappels, groente, en slaai, en afgesluit word met 'n stewige nagereg. Soms ry ons daarna 'n draai deur die natuur, of gaan kuier by vriende en familie.

By geleentheid het ons al die rangorde verander wanneer ons aan huis van familie en vriende ons Kersfeesvieringe gaan geniet het.

En het ons 'n Kersboom?

Ja, ek het nog altyd hier rondom 1 Desember ons huis begin versier en 'n Kersboom opgesit. Ek vereenselwig nie Kersdag met die afgode boom van Jer. 10:1-5 nie. Ons buig ons nie voor dit neer nie, ens.

Vir my was die Kersboom nog altyd net die uiterlike teken van die blydskap en feestelike atmosfeer wat in ons harte heers omdat Jesus as mens-God aarde toe gekom het om ook vir ons te kom sterf aan die kruis.

As jy meer wil weet, epos my gerus.

Mag jy 'n wonderlike Kersfees (Christus fees) he.

Lizette De Klerk & Gesin

© 2011.

Alle regte voorbehou.

No comments: